Die grootste wonder ooit. Dat Jesus sondaars kan en wil red. Geestelike redding. Dit is die evangelie. Wat beteken dit vir ons?
Wat is die evangelie van Christus. Waarom moet ons gered word? Hoekom is Jesus die enigste oplossing!Saskia Pienaar - EGK Tygerberg.
Ons is almal verlore
Ons almal is in sonde ontvang en gebore
want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, — Rom 3:23 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. — 1Joh 1:8
Die uiteindelike gevolg van sonde is die dood (hier beteken dit die hel)
Want die loon van die sonde is die dood, — Rom 6:23
Maar daar is hoop - die Evangelie
Christus betaal die prys (“God se vereiste is bloed”) vir ons sonde, aan die wat Hom aangeneem het as Verlosser.
Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; — 1 Kor 15:1-4
bloed
maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.
Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. — Rom 5:8-10
Hierdie prys herstel ons verhouding met God en bewerkstellig vrede deur versoening met God. Hoe weet ons of die prys aanvaarbaar was volgens God se voorskrifte (“bloed”)?
Wel die bewyse is deur God gegee, deurdat Hy Christus opgewek het uit die dode. Net soos God die offers in die ou Testament
aanvaar het (soos byvoorbeeld met Elia en die Baäl profete). Christus leef en gee vir ons ’n nuwe ewige lewe.
Die prys wat betaal is, is ’n gawe van God.
Vir die wat Christus aanneem, maw bekeer en Hom as jou Verlosser aanvaar, geld die genadegawe wat die vrede met God herstel.
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; — Efe 2:8
Chritus is die gawe, die genadegawe.
Een keer gered - altyd gered
Die Woord verklaar die mag van Christus se verlossingskrag.
En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. — Joh 10:28
Dit gee ons volkome vrede met God, verewig.
Wat beteken dit vir my?
As jy Christus nie aangeneem het as jou persoonlikeHERE en verlosser nie, dan bly jy verlore, vir altyd. Altyd soos in verewig
sonder God - ewige hel.
Want God is ook geregtig, wat die sonde straf. Hy HAAT sonde, sonde word glad nie geduld nie, onder geen omstandighede!
Sekerlik, die slegte bly nie ongestraf nie; maar die geslag van regverdiges raak vry. — Pred 11:21
Ons leef in die sogenaamde verligte tydperk, waar die mens dink hy weet alles.
Kyk net na die tegnologie: ons is voortdurend gekonnekteer, en binne sekondes hoor ons van gebeure wêreldwyd. Ja, selfs Covid is “oorwin” deur kennis en tegnologie.
Wil jy iets weet? Google dit.
As jy by hierdie bladsy uitgekom het dan het jy heelwaarskynlik onder sondebesef gekom.
Om gered te word beteken dat jy van iets verlos moet word. As jy besig is om te verdrink, moet jy uit die water gehaal word om gered te word en op vaste grond gesit word.