✞ Hoe om gered te word ?
deur J.A. Saunders
Vir elke mens is dit van die grootste belang om gered te word van die sonde.
Om die leser te help, noem ons hier sewe vereistes om gered te word en die
geluk daarvan te ondervind:
1. Sondebesef
Om gered te word moet ’n mens in die eerste plek besef dat jy nie gered is nie,
met ander woorde dat jy verlore is. Daar is baie mense wat meen dat hulle christene
is omdat hulle uit ’n christelike familie kom; andere meen weer dat hulle met die
doop, herdoop of aanneming gered is; sommige maak weer daarop staat dat hulle baie
godsdienstig is, die Bybel gereeld lees, kerk toe gaan, miskien op die kerkraad dien
of self predikant is. Hierdie opvattings is in stryd met Gods woord sowel as met die
Gereformeerde leer.
Die Woord van God en die formuliere leer dat die mens in sy natuurlike staat geheel-en-al
doemwaardig is en dat hy sy saligheid buite homself moet vind: “Almal het gesondig en dit
ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Rom 3:23. “Kyk in ongeregtigheid is ek gebore,
en in sonde het my moeder my ontvang”. Ps 51:7. “Kan ’n reine voorkom uit ’n onriene?”.
Job 14:4. “Ons almal het gedwaal soos skape …” Jes 53:6.
2. Bekering
U moet uit u verlore toestand na Jesus kom.
“O almal wat dors het kom…”. Jes 55: 1. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak…” Jes 1:18.
“laat hom wat dors het kom…” Open 22:17.
3. Geloof
U moet Jesus aanneem as u persoonlike Saligmaker. Die hele Christendom ken Jesus as die Saligmaker
van die wêreld, maar ken u Hom as u persoonlike Saligmaker?. In Joh 10:27 en 28 bied Jesus u die
ewige lewe aan: “My skape luister na my stem en Ek ken hulle, en hulle volg My en Ek gee hulle die ewige lewe…”.
In Joh 1:12 sê Jesus dat hy “aan almal wat Hom aangeneem het, mag gee om kinders van God te word”. Let daarop dat Jesus die saligheid aanbied en dat ons dit moet aanneem.
Kan u sien dat redding nie iets is wat u van God hoef af te smeek nie? U moet dit eenvoudig neem. As iemand u ’n geskenk aanbied hoef u nie nog daarom te vra nie,
nee, u neem dit aan. Net so gee Jesus en u neem.
4. Sondebelydenis
Voordat u die saligheid kan neem, is daar egter ’n belangrike saak wat afgehandel moet word.
U is, soos reeds gesê, in sonde ontvang en gebore. Die Geestelike hand waarmee u moet neem,
is nog vol sonde waaraan ons nog vashou, met die gevolg dat u nie die saligheid daarmee kan neem nie.
Baie mense probeer om God met die een hand te dien en met die ander een die sonde vas te hou.
Dit baat niks nie en Jesus het teen hierdie dubbelhartigheid gewaarsku. U moet dus verlos word
van die sondige toestand waarin u nog lewe. God se weg daartoe is deur belydenis van u sonde.
In Joh 3 sien ons hoe die Here Jesus deur die geskiedenis van die koperslang vir Nikodemus
gewys het dat Hy die sonde van die wêreld op Hom geneem het en in Jes 53:6 word gesê dat
God die ongeregtiheid van almal op Hom laat neerkom het. U moet dus u sonde en verlorenheid in Jesus
aan die kruis sien en van u sondelas ontslae raak by die kruis.
Wanneer u u verlore toestand in opregtheid en met berou na God toe bring, word u sondes gereinig deur die
bloed van die Lam. Dit moet u aanvaar en glo en dan sal u verlossing ontvang.
Lees nou die volgende tekse sorgvuldig in u Bybel. Die duiwel sal probeer om u te mislei,
maar hy is ’n leuenaar (Joh 8:44). U moet God glo:
- Hy verwyder jou sondes sover as die ooste van die weste af is. (Ps 103:12). Dit is ’n onmeetlike
afstand - u kan oos en wes nooit bymekaar kry nie.
- Wanneer Hy jou sondes vergewe het, dink Hy nooit weer daaraan nie. (Jer 31:34). Dit is meer as
wat die mens kan doen. Ons kan vergewe, maar nie vergeet nie. God doen albei.
- Hy bedek jou sondes. (Ps 32:1).
- Hy werp dit in die diepte van die see. (Miga 7:19).
- Hy werp dit agter sy rug. (Jes 38:17).
- Hy reken jou die sonde nie toe nie. (2Kor 5:19).
Deur hierdie tekse gelowig te lees, behoort u nou te aanvaar dat God u sondes en verlorenheid
vergewe het en kom u nou by die volgende stap.
5. Versekering
God laat ’n mens nie in onsekerheid oor sy saligheid nie. Die wyse Salomo sê dat die
goddelose nie weet waarheen hy gaan nie, maar die kind van God weet wel dat hy gered
is en op pad hemel toe is.
Lees nou die volgende tekse biddend en gelowig deur:
- U kan weet dat u gered is. (1Joh 5:12,13).
- Die Gees self getuig saam met ons gees. (Rom 8:16).
- Ons het die mag om kinders van God genoem te word (Joh 1:12; 1Joh 3:1,2; Joh 5:24).
Lees verder die eerste sendbrief van Johannes in sy geheel deur.
In die 5 kort hoofstukke word herhaaldelik gepraat oor sekerheid. Let op hoe dikwels die woorde: “ons weet” daarin voorkom.
6. Getuienis
As u nou die sekerheid het dat u gered is, moet u sonder versuim daarvan getuig.
(Sien hier onder vir jou eerste geleentheid).
Vir sommige is dit moeilik, maar gewoonlik is die stryd na die eerste getuienis wat u afgelê het
verby en u sal ’n ongekende vreugde ontvang.
God beveel u in sy Woord om te getuig. Aan Legio het Jesus gesê: “Gaan terug na jou huis
en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het…” Luk 8:39. Paulus sê in Rom 10:9,10
dat ons die Here Jesus met ons mond moet bely en in Ps 66:16 sê die psalmis dat almal moet
kom luister as hy vertel van watter groot dinge die Here aan sy siel gedoen het. Kinders
van God mag nie skaam wees om vir die Here te getuig nie.
7. Bybelstudie en Diens
U het nou ’n nuwe lewe en u sal nuwe vriende maak, ’n nuwe pad bewandel en nuwe leesstof
aanskaf. Onthou, as u geestelik gesond wil wees en wil toeneem in die genade, sal u goeie
geestelike voedsel moet kry. Gee reg van die begin af die regte plek aan die Woord van God.
Lees en bestudeer dit. Daardeur sal u geloof versterk word. (Rom 10:17). Deur drie hoofstukke
per dag te te lees en vier hoofstukke elke Sondag, lees u die Bybel eenkeer per jaar deur.
Dit sal u siel verryk en u geloof versterk.
As u hierdie stappe geneem het, sal die duiwel probeer om u met lis te vang.
Moenie ontmoedig wees as u struikel nie, want ons het die onfeilbare belofte van
God in sy Woord: “… as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader.
Jesus Christus, die Regverdige”. (1Joh 2:1).
GAAN VOORT IN SY NAAM!
Ek het Christus as my Verlosser aangeneem en wil my eerste getuienis gee. Of ek wil graag
iets bespreek.